mielies_uitvoer

12 May 2017

Wie wen R45 000 in mieliekompetisie?

Die finaliste van die BVG-verskansingskompetisie sal volgende week by Nampo bekendgemaak word.

BVG se jaarlikse verskansingskompetisie het op 29 April 2017 gesluit.

Die doel van die kompetisie was om veral boere, maar ook ander belangstellendes, meer vertroud te maak met die gebruik van afgeleide instrumente op die Johannesburgse Sekuriteitebeurs (JSE) om sodoende prysrisiko te bestuur. Die prysgeld van R45 000 word geborg deur BVG, BKB GrainCo, Landbou.com, die Johannesburgse Sekuriteitebeurs en Suidwes Graan.

Deelnemers moes die verskansing van 4 000 ton wit mielies vir lewering in Julie 2017 van ‘n boer in die Coligny-gebied doen. Deelnemers moes met verskillende verskansingstrategieë probeer om die hoogste moontlike wins vir die boerdery te maak. Wins wat uit voor die hand liggende spekulasie gemaak is, is nie in berekening gebring nie.

Lae pryse
Vanjaar se kompetisie is heelwat meer uitdagend as dié van verlede jaar. Die prys vir wit mielies was laas jaar R5000 per ton, wat winsgewende bemarking redelik maklik gemaak het. Bemarkingstrategieë neem egter ‘n heel nuwe dimensie aan by vanjaar se lae pryse.

Daar was heelwat inskrywings en vandeesweek is bepaal wie die beste gevaar het. Deelnemers het oor die algemeen’n goeie kennis van afgeleide instrumente wat op die JSE (Safex) verhandel, met sterk mededinging tussen die verskillende inskrywings.

Die finaliste sal tydens Nampo 2017 aangekondig word, en die wenners sal op’n glansgeleentheid later in die jaar aangekondig word.

BVG sal soos gewoonlik ook by Nampo wees. Almal is welkom om ons by NAMPO (Stalletjie 261F) te besoek.

Vanjaar was reeds die derde jaar wat hierdie kompetisie aangebied is. Die konsep van die kompetisie om veral produsente meer vertroud met verskansing te maak, was oorspronklik die idee van Landbou.com, BVG en BKB Grainco.