1-1221129588d7gw

10 Mar 2017

Moenie mielies plant: Koop oes (deel 2)

Indien internasionale mieliepryse en die wisselkoers volgende jaar bly soos wat dit tans is, gaan mielieproduksie vir baie boere nie lonend wees nie, al is daar ʼn tekort aan mielies.

Heelwat uiteenlopende reaksie is ontvang op die artikel, Moenie mielies plant nie – koop jou oes, ‘n onlangse artikel. ʼn Breёr verduideliking, asook enkele berekeninge vir winsgewendheid, word hieronder gedoen.

Suid-Afrikaanse mielieboere het, as gevolg van klimaatsonsekerheid, geen manier om te beplan hoeveel mielies hulle in totaal gaan produseer nie. ʼn Mens kan dalk vir hektare beplan, maar die groot onbekende faktor bly die opbrengs. Die gemiddelde mielie-opbrengs vir die vorige vyf jaar was 4,4 ton per hektaar. Vanjaar se opbrengs word op 5,3 ton per hektaar geskat, ‘n verskil van 0,9 ton (syfers afgerond).

Indien vanjaar ʼn gemiddelde jaar sou wees, het mielieproduksie met 2,3 miljoen ton gedaal. Surplus-produksie sou omgeswaai het na min of meer in balans-produksie. ʼn Opbrengs van slegs ʼn halfton onder bg. gemiddeld sou weer ʼn reuse-tekort veroorsaak het. Boere het nie vanjaar te veel of te min geplant nie. Die eerste kommentaar op die artikel, “Plant manne, die droogte kom weer!” was dalk in ligte luim, maar glad nie onvanpas nie.

Om mielie-surplusse te verwyder
Die afskaling van mielieproduksie is nie die enigste wyse om mielie-surplusse te verwyder nie. Die skep van nuwe afsetgebiede vir mielies in die binneland is eintlik die beste manier daarvoor. In Amerika is dit met behulp van etanol bewerkstellig, maar plaaslik is dit die afgelope tyd net die teenoorgestelde. Dis dalk indirek, maar die moeilikheid met goedkoop ingevoerde hoender is nie net vir braaikuikenprodusente nadelig nie, maar is ook vir mielieboere ʼn probleem.

Die suggestie oor die koop van volgende jaar se oes is glad nie ʼn beroep om produksie af te skaal nie. As ʼn produsent normaalweg 10 000 ton mielies produseer, kan hy dit vir die komende seisoen weer doen. Hy het net vanjaar vir die eerste keer in baie jare die keuse om, as gevolg van die lae mielieprys, dit op twee maniere te doen. Die produsent kan bv. 5 000 ton deur middel van saad, kunsmis, ens. produseer en die ander 5 000 ton nou al koop, of watter kombinasie ook al.

Huidige pryse skep ʼn nuwe binnelandse afsetgebied vir vanjaar se oes. Indien genoeg produsente dit doen, kan dit volgende seisoen die “toevallige” effek van minder hektare geplant, beteken. ʼn Verdere voordeel is natuurlik dat die variasie van die verwagte opbrengs kleiner word soos wat die persentasie gekoopte tonne groter word.

Geproduseerde tonne, teenoor gekoopte tonne
Die impak op 2017/’18 sal afhang van tot watter mate produsente geproduseerde tonne met gekoopte tonne vervang. In die “Jou mening” gedeelte op Landbou.com het 71% van die deelnemers aan dié meningsopname gesê dat hulle dit wel sal oorweeg om ‘n oes te koop, eerder as om dit te plant. As net ʼn kwart van mielieboere dit doen, sal die uitwerking wesentlik wees, hoewel dít alleen nog geen waarborg vir winsgewende mielie produksie in 2017/’18 is nie.

Die vervanging van geproduseerde tonne met gekoopte tonne is uit die aard van die saak nie werkbaar as beeste die eintlike belangrike vertakking in die boerdery is nie. Daar is wel mieliedistrikte waar vir kilometers ver geen grensdraad tussen plase te sien is nie. Hierdie boere het nie ʼn beeskos-probleem nie.

Beroepe op produsente om saam te staan en minder te plant is in werklikheid ʼn reuse-onding. Twee voorbeelde:
ʼn Produsent het 20 jaar terug sy mielieplaas (uitstekende watertafel-lande) in drie verdeel. ʼn Derde rus, die volgende derde het ʼn alternatiewe gewas op, soos koring, terwyl die laaste derde onder mielies is. Kan van hierdie boer verwag word om ter wille van ander produsente nóg minder mielies te plant? Ek dink nie so nie.

Produsent se oes dalk die goedkoopste?
ʼn Volgende produsent in dieselfde distrik is die afgelope vyf jaar besig om, afgesien van sy eie grond, weidingslande by te huur en dit met mielies te beplant. Op die oog af lyk dit asof hy die kewer in die roos is, maar is dit regtig so? Hierdie produsent boer dalk só goed dat hy die goedkoopste mielies in die distrik verbou. Die maak nie sin om sy produksie te probeer inperk nie.

In 2005 het ʼn boer tydens ‘n afskaal-vergadering gesê dat, selfs teen die pryse in daardie stadium, mielieboerdery steeds vir hom werk. Sy gedagte was dat die individuele winsgewendheid van mielieproduksie die hektare self sal afskaal. Het hy dalk Darwin se “survival of the fittest“ in gedagte gehad?

Ten opsigte van van Sarel se kommentaar oor die vorige artikel die volgende: Ek deel sy kommer. Mieliepryse in Suid-Afrika wissel tussen in- en uitvoerpariteit. In geval van ʼn surplus daal pryse tot uitvoerpariteit, maar as daar ʼn tekort is, styg plaaslike pryse tot invoerpariteit. Dit word algemeen aanvaar dat mieliepryse goed is as invoerpariteitspryse geld. Is dit regtig so?

Geel mielies ingevoer
Witmielie-produksie vir binnelandse verbruik is vir die meeste jare voldoende. ʼn Meer gereelde geelmielie-tekort word gewoonlik deur die surplus wit mielies aangevul en wanneer die wit op is, word geel ingevoer. Pryse (vir geel én wit mielies) word dan van die gelande prys van ingevoerde geel mielies afgelei. Laasjaar se wit invoerprys was ʼn uitskieter.

Die JSE (Safex) afgeleide prys van ingevoerde geel mielies in die Wes-Kaap en Pietermaritzburg is nou onderskeidelik rondom R2 500 en R2 800 per ton. Volgens Graan SA se produksiekoste-begrotings is die vaste en veranderlike koste van mielies vir die meeste gebiede ongeveer R2 500 per ton (2016/’17 pryse). Slegs ʼn 5% styging beteken ‘n gelykbreek boerprys van R2 625 per ton vir 2017/’18. Indien Bultfontein (R272 differensiaal) weer as voorbeeld gebruik word, moet die Julie 2018 JSE-(Safexprys) R2 897 per ton wees net om gelyk te breek, met ander woorde bo huidige invoerpariteit.

Indien net 25% van volgende seisoen se beplande tonne gekoop in plaas van geproduseer word (let wel: geen produksie-afskaling nie), bestaan ʼn uitstekende kans dat pryse volgende jaar op invoerpariteit-vlakke sal wees.

Die groot vraag is egter: Wat gaan internasionale mieliepryse en die wisselkoers volgende jaar wees – want as dit bly soos wat dit is, gaan mielieproduksie vir baie boere nie lonend wees nie, al is daar ʼn tekort aan mielies.

* Johann Strauss is ʼn navorser by BVG Securities