kernels-of-corn

15 Mar 2017

Mieliepryse 8 tot 14 Maart 2017

Mieliepryse is onder produksiekoste- en uitvoerprysvlakke. Hoeveel laer nog, vra ʼn ontleder.

johansstrauss-550

Wisselkoers:
Die wisselkoers het die afgelope week met 18 sent verswak.  Die verwagting vir die volgende week is sywaarts tot effens sterker.

VSA mielieprys:
Die VSA mielieprys vir Julie 2017, soos wat dit op die CME-beurs verhandel, het met 16 Amerikaanse sent per skepel gedaal. Die relatiewe skerp daling die afgelope week was ná die bekendmaking van die maandelikse vraag- en aanbod syfers vir landbouprodukte wêreldwyd.  Die skattings word deur die Amerikaanse Departement van Landbou (USDA) gedoen. Volgens hierdie syfers word ‘n groot sojaboon-oes in Brasiliё verwag. Dit het heelwat afwaartse druk op sojaboon- en mieliepryse geplaas.

Die verwagting vir die komende week is sywaartse verhandeling.

Wit en geel mielies:
Julie 2017 Safex wit mielies het vir die week onder bespreking met R15 per ton gedaal, met geel mielies wat ‘n daling van R20 per ton gehad het. Die beweging vir die week was dus sywaarts tot afwaarts. Geel mielies het op 13 Maart vir die eerste keer onder R2000 per ton gesluit.

Die groot vraag is hoe ver pryse nog kan daal. Fundamenteel gesien is pryse by of onder uitvoerpariteit, asook onder produksiekostevlakke. Daar is tientalle maniere om deur middel van tegniese ontledings ‘n onderkant te soek, maar dit lyk asof sommige van hierdie ontledings R1800 vir wit mielies as ‘n sterk weerstandsvlak sien.

‘n Grafiek van Julie 2017 mielies se beweging vir die afgelope week is hieronder:

* Geskryf deur Johann Strauss, navorser by BVG Securities