fresh-sweet-corn

22 May 2017

Finaliste in BVG se mielie-kompetisie

Tien finaliste se name is bekend gemaak in BVG se verskansingkompetisie.

Die tien finaliste in vanjaar se BVG-verskansingskompetisie is op Nampo 2017 bekend gemaak.

Die doel van die kompetisie was om veral boere, maar ook ander belangstellendes, meer vertroud te maak met die gebruik van afgeleide instrumente op die Johannesburgse Sekuriteitebeurs (JSE) om sodoende prysrisiko te bestuur. Die prysgeld van R45 000 word geborg deur BVG, BKB GrainCo, Landbou.com, die Johannesburgse Sekuriteitebeurs en Suidwes Graan.

Deelnemers moes die verskansing van 4 000 ton fiktiewe wit mielies vir lewering in Julie 2016 van ʼn boer in die Coligny-gebied doen. Deelnemers moes met verskillende verskansingstrategieë probeer om die hoogste moontlike wins vir die boerdery te maak, sonder ooglopende spekulasie.

Meer uitdagend
Vanjaar se kompetisie is heelwat meer uitdagend as dié van verlede jaar. Die prys vir wit mielies was laas jaar R5000 per ton, wat winsgewende bemarking redelik maklik gemaak het. Vanjaar se lae pryse het sake heelwat meer ingewikkeld gemaak.

Deelnemers het oor die algemeen ‘n goeie kennis van afgeleide instrumente wat op die JSE (SAFEX) verhandel, met sterk mededinging tussen die verskillende inskrywings.

Die 10 finaliste:
Die volgende mense is die finaliste van die 2017 BVG-verskansingskompetisie (in geen spesifieke volgorde nie):
Marco Meyer
Tiaan Buys
Tadiwanashe Muchaka
Niel Swart
Adri Wolhuter
Conrad Barnard
Thinus Helberg
Francois Nel
Stefanus Anderson
Piet Janse van Rensburg

Vanjaar was reeds die derde jaar wat hierdie kompetisie aangebied is. Die wenner van die 2016-kompetisie was Jannie Keet, terwyl die eerste verskansingskompetisie deur André Groenewald gewen is.

Die naam van die wenner word later vanjaar op ʼn geselligheid in Pretoria bekend gemaak.